Boereverraaiers nou dokumentêr op DVD

Verraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog, 'n dokumentêr op DVD.

Verraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog, 'n dokumentêr op DVD.

Deur MARTHINUS VAN BART

Die skokkende onthullings in Albert Blake se pas verskene boek Boereverraaier: Teregstellings Tydens die Anglo-Boereoorlog oor verraad in eie geledere word nou ook in ’n dokumentêre rolprent op DVD verhaal. 
Die vervaardiger van dokumentêre rolprente, Ulula Produksies, het vandeesweek in Kaapstad sy nuutste DVD, Teregstellings van Boereverraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog, uitgereik.
Dit volg op die baie suksesvolle dokumentêre rolprent, Verskroeide Aarde/Scorched Earth, waaraan dié span in 2000 meegewerk het, en Die Leeu van Wes-Transvaal, oor die lewe van die beroemde generaal Koos de la Rey, wat Ulula Produksies in 2008 uitgereik het. Die produksiespan is Hennie van der Merwe, regisseur, Sanet Scheepers, redigeerder, en Marc Degenaar, kameraman.
Die dokumentêr oor die Boereverraaiers is vervaardig in opdrag van die P.H. de la Rey-Familietrust en die medewerking van Albert Blake, die skrywer van Boereverraaier: Teregstellings Tydens die Anglo-Boereoorlog, onlangs by Tafelberg uitgegee. Dié prokureur van Roodepoort tree in die rolprent dan ook as hoofverteller op.
Ander deelnemers is onder meer vyf akademici, proff. Grietjie Verhoef, hoogleraar in ekonomiese geskiedenis aan die Universiteit Johannesburg, Andries Raath, regsgeleerde en historikus van die Vrystaatse Universiteit, André Wessels, historikus van die UOVS, Johan Snyman, filosoof van die Universiteit van Johannesburg, en Wilhelm Jordaan, hoogleraar in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, wat kommentaar oor aspekte van die aangrypende verhaal lewer.
Ook word onderhoude gevoer met afstammelinge van verraaiers, ABO-kenners en kommentators.
Soos in die dokumentêr oor De la Rey, word historiese plase en terreine by die verfilming ingesluit. Hierdie keer word besoek gebring aan plekke waar verraad gepleeg, krygshofverrigtinge gehou en die doodstraf deur vuurpelotons opgelê is. Ook word begraafplase besoek waar die oorskot van die tereggesteldes begrawe is.
Die verfilming het oor 15 dae plaasgevind. Die terreine en plase wat besoek is, is by Hoopstad, Wolmaransstad, Klerksdorp, Potchefstroom, Bloemfontein, Ficksburg, Volksrust, Amersfoort, Reitz, Klawer en Vanrhynsdorp.
Die belangrikheid van die dokumentêr lê daarin dat gedebatteer word oor daardie onaangename episodes in ’n land se geskiedenis wat mense maar liefs sou wou vergeet in plaas van om daarmee in die reine te kom sodat vergifnis en geestelike heling kan plaasvind. Die onthulling lewer ook ’n bydrae daartoe dat lesse uit die geskiedenis deur die huidige geslag geleer kan word.
Daarby beklemtoon die rolprent die belangrikheid van tasbare en ontasbare erfenis: Die plekke, geboue, begraafplase, asook die verhale, wat vorm gee aan ’n land se kultuurerfenis – en dat dit verdien om bewaar te word.
In aansluiting by dié bewaringsinisiatief het Solidariteit pas bekend gemaak dat hy ’n spesiale trustfonds vir die bevordering van kultuurbewaring deur fotografie in die lewe geroep het. Dit word genoem na die fotograaf Paul Alberts (64) van Brandfort wat pas aan kanker oorlede is.
Alberts het ’n waardevolle reeks boeke, Erwe van Ons Vaadre, oor verskillende aspekte van die Anglo-Boereoorlog nagelaat.
Hopelik sal hierdie prysenswaardige aksie deur Solidariteit se bystandsafdeling, Helpende Hand, ook geldelik deur ander ondernemings en erflatings ondersteun word sodat ook die vervaardiging van dokumentêre rolprente oor die land se kultuurerfenis betekenisvol daardeur bevorder sal kan word.
 Die dokumentêre DVD Teregstelling van Boereverraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog kan per e-pos bestel word by: estelle@nelattoreys.co.za of per faks by: 086 572 5802. Die Leeu van Wes-Transvaal kan per e-pos bestel word by: ulula@worldonline.co.za of telefoon 082 894 4837. Laasgenoemde is ook in Engels, The Lion of Western Tranvaal, beskikbaar. Blake se boek kan by goeie boekhandelaars aangevra word.
Hennie van der Merwe, regisseur, Sanet Scheepers, redigeerder, en Albert Blake, skrywer van die pas verskene boek Boereverraaier.

Hennie van der Merwe, regisseur, Sanet Scheepers, redigeerder, en Albert Blake, skrywer van die pas verskene boek Boereverraaier: Teregstellings Tydens die Anglo-Boereoorlog. Hulle staan voor die Ou Kruithuis op Hoopstad. Die naam van die dokumentêr-vervaardiger is Ulula Produksies.

Prof. Grietjie Verhoef, hoogleraar in  ekonomiese geskiedenis aan die Universiteit Johannesburg.

Prof. Grietjie Verhoef, hoogleraar in ekonomiese geskiedenis aan die Universiteit Johannesburg.

Prof. Andries Raath, hoogleraar in die regte aan die Vrystaatse Universiteit en kundige oor die Anglo-Boereoorlog. hy het reeds verskeie gesaghebbende boeke oor die lyding van die vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe geskryf en laat uitgee.

Prof. Andries Raath, hoogleraar in die regte aan die Vrystaatse Universiteit en kundige oor die Anglo-Boereoorlog. Hy het reeds verskeie gesaghebbende boeke oor die lyding van die vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe geskryf en laat uitgee.

Prof. André Wessels, hoogleraar in geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. hy is 'n voorste kundige oor die Anglo-Boereoorlog.

Prof. André Wessels, hoogleraar in geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. Hy is 'n voorste kundige oor die Anglo-Boereoorlog.

Prof. Johan Snyman is hoogleraar in die filosofie aan die Universiteit Johannesburg.

Prof. Johan Snyman is hoogleraar in die filosofie aan die Universiteit Johannesburg.

Prof. Wilhelm Jordaan is hoogleraar in die sielkunde aan die Universiteit Pretoria.

Prof. Wilhelm Jordaan is hoogleraar in die sielkunde aan die Universiteit Pretoria.

Comments are closed.