Naas die kruis en die nagmaalsbrood is die nagmaalsbeker die belangrikste simbool van die kruisdood en opstanding van die Christus wat met die Paasfees gedenk word. Die simboliese betekenis daarvan strek terug na die simboliek van die Keltiese Kookpot van die Gode.
Binne die Christelike teologiese opset is die nagmaal, soos die doop, ’n heilige sakrament, ’n sigbare teken en seël van Gods genade: die vergewing van sondes deur die verlossende kruisdood en opstanding van die Christus. Wanneer die gelowige die brood eet en uit die nagmaalsbeker drink, word hy deelgenoot in ’n nuwe orde waar sy sondige natuur getransformeer word tot ’n ware beeltenis van God. Sondaar word kind van God, soldaat van God, vegter vir Gods ryk.
Aan die nagmaalstafel ervaar die gelowige Jesus se belofte: “Ek is die brood van die lewe, wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in my glo, sal nooit dors kry nie.” (Joh. 6:35) En: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Joh. 6:54) Die brood, dan, is die simbool van die Christus se liggaam, die wyn in die nagmaalsbeker sy bloed.
Die nagmaalsbeker is dus ’n beker van oorvloed wat die geestelike honger na wysheid – kennis van goed en kwaad – voortdurend voed, maar ook ’n simbool van transformasie – hergeboorte – en onsterflikheid. Bowenal is dit simbool van ’n (goddelike) bloedoffer en die gevolglike opstanding uit die dood, fisiek en geestelik.
Hiermee is dan ook ’n beskrywing gegee van die simboliek van die Keltiese Kookpot van die Gode, ’n betekenisopset wat reeds voor die Christelike era beslag gekry het.
Keltiese literêre bronne verwys na etlike Kookpotte van Gode, elk met ’n spesifiek simboliese lading. Hier kan slegs kortliks na enkeles verwys word.
Een van die bekendste kookpotte in die Keltiese mitologie is die Dagda se Pot van Oorvloed. Hy was ’n koning van die Tuatha Dé Danann en een van die hoofgode van die Keltiese voor-Christelike panteon, vader van die gode in die Ierse mitologie. “Tuatha Dé Danann” is Iers vir Volk van die godin Danu/Anu. Sy was die moeder van die Ierse gode.
Volgens die oudste Ierse verhale is hulle uit die hemel verban weens hul kennis en hul magiese kragte, wat die ander hemelinge in die skadu gestel het. Hulle het daarna in ’n miswolk op Ierland neergedaal, waar hulle geheers het totdat hulle deur die Milesiane verdryf is. Tot vandag word vertel dat hulle sedertdien onder die Ierse heuwels bly en as feë bogronds verskyn, die bron van talle Ierse legendes.
Een van hul skatte was Dagda, na wie dikwels verwys is as die Dagda, se kookpot: Die pot het in onuitputlike oorvloed in elke materiële behoefte voorsien, maar ook opstanding uit die dood vir oorledenes wat daarin gegooi is, verseker.
Die Dananne het, volgens latere verhale, die pot vanaf Murias, een van die vier stede van waar hulle na Ierland gekom het, gebring. Semias, Murias se Meester van Wysheid, het dié Pot van Wysheid aan hulle toevertrou. Dagda het gevolglik ook bekend gestaan as Ruad Ro-fhessa, Heer van Volmaakte Kennis, Eochaid Ollathair, Vader van Almal, en Deirgderc, Rooi Oog, dit wil sê Die Son, wat van hom ’n songod gemaak het.
Die Dagda se Pot van Oorvloed, Opstanding en Wysheid kom wesenlik ooreen met Arawn, die heerser van Annwfn, die Walliese onderwêreld, se kookpot. Dié pot het Arthur (van die Arthuriese Heilige Graal-legendes) begeer. Daar is dan ook mitoloë wat Arawn as voorloper van die Arthuriese figuur Alain li Gros, ’n versorger van die Heilige Graal, sien.
Arthur se Ridders van die Rondetafel gaan op ’n soektog na die Graal. Dié gegewens blyk ’n vroeë aanduiding te wees dat die Keltiese Kookpot van die Gode mettertyd die Heilige Graal geword het, die Graal wat volgens die Arthuriese legendes by die laaste avondmaal gebruik is en waarmee Josef van Arimathea later die bloed uit die spieswond aan die sy van die gekruisigde Christus opgevang het. Josef het die Graal na Glastonbury gebring. Daar is in die Middeleeue ’n magtige katedraal gebou waar Arthur se graf, volgens sommige verhale, in die skip gelê het.
Arawn se Kookpot het een van die skatte van Brittanje geword.
Die Kookpot van Bran was by uitnemendheid ’n opwekker uit die dood: Gesneuwelde soldate is in die pot gegooi en het dan ’n dag later lewend en met hernude krag uit die pot getree om met die stryd voort te gaan. Hulle het egter hul spraak verloor. Waarom is nie duidelik nie.
Vermoedelik het hulle nie spraak nodig gehad nie, want hul stryd het nou ’n innerlike, geestelike dimensie verkry.
Bran (Kelties vir raaf) was ’n reus, ’n Keltiese god wat volgens die Mabinogion (’n versameling Walliese verhale uit die Middeleeue) “as koning van die Eiland gekroon is”, die eiland synde Brittanje. Bran is ernstig beseer in ’n geveg met die Iere nadat sy pot deur sy jaloerse halfbroer, Efnissien, vernietig is en daardeur self gesterf het.
Bran se hoof is op sy bevel deur sy sewe oorblywende volgelinge op die Wit Berg (White Mount, waar die Tower of London is) met sy gesig na die ooste, van waar die vyand gewoonlik gekom het, begrawe. Solank sy hoof daar begrawe is, het hy beloof, sal Brittanje veilig wees. Die rawe wat tot vandag by die Tower aangehou word, is ’n herinnering aan Bran, die Raaf, se belofte. Hul vlerke word geknip sodat hulle nie kan wegvlieg nie, want as dit gebeur, sal Brittanje voor die vyand val.
Maar Arthur, so vertel ’n legende, het Bran se hoof laat opgrawe, want hy, Arthur, wou die alleenbeskermer van Brittanje wees. ’n Arthuriese variasie van die Bran-verhaal lui dus dat Arthur uit die graf sal opstaan wanneer Brittanje bedreig word om sy land te beskerm. Bran se rawe is egter steeds op die Wit Berg, waaronder sy kookpot vermoedelik steeds begrawe lê . . .
Mitoloë is van mening dat Bran Brons van die Arthuriese Graal-legendes geword het. Brons is ’n dienaar van die Heilige Graal, dus nog ’n aanduiding dat die Kookpot mettertyd die Heilige Graal, waaruit almal in die Graalkasteel gevoed kon word, geword het.
Brons, ook Hebron genoem, was die skoonseun van Josef van Arimathea en die grootvader van Perceval, een van die Ridders van die Rondetafel wat die Graal kon aanskou/verwerf het, omdat hy suiwer van hart en edel van inbors was. Perceval was in sommige legendes die Visserkoning, soos sy grootvader, dus ’n Graalkoning wat die Graal in sy kasteel gedien het. Die Graalkoning is die Visserkoning genoem omdat hy ’n menigte met een vis in sy kasteel kon voed.
Dit is dus duidelik dat die vroeë kerkvaders die Christelike geloof in die “nuwe” god, die Christus, bevorder het deur die simboliek van die Keltiese Kookpot en die Heilige Graal in Christelike terme te herinterpreteer.
* E.S. van Bart is ‘n kundige oor antieke kultuur en kunsgeskiedenis.










